Goeie middag,
Ek glo en vertrou dat dit goed gaan.
Hier by Huis Stilbaai is ons amper by Herfs en was die afgelope tyd besig met ons begroting vir die finansiële jaar. Ons beplan om hierdie week die losiesverhoging met die inwoners te deel.
Ons reël die Basaar vir 1 April en sien uit na ‘n feestelike geleentheid.
- Ons verwelkom enige skenkings vir bestanddele vir ons poedingtafel soos kitspoeding, boksies vla, ideal melk en leë roomysbakke.
- Ons kan ook Artikel 18A sertifikate uitreik vir enige finansiële skenkings vir ons basaar. U kan deponeer in ons lopende rekening by Nedbank 1847 002 285, Stilbaai tak, met verwysing BASAAR2023 en u naam, dan stuur ons die Artikel 18A wat u vir belasting doeleindes kan gebruik.
Op 6 April hou ons ‘n wynveiling in samewerking met Huis Herfsvreugde van Bonnievale.
Hulle het ons in November 2022 gekontak en genooi om saam met hulle ‘n fondswerwing geleentheid aan te bied.
- Hierdie geleentheid vind plaas by Stables restaurant op 6 April 2023 hier in Stilbaai. ‘n Groot verskeidenheid wyne uit die Breederiviervallei sal opgeveil word ten bate van Huis Herfsvreugde en Huis Stilbaai.
- Die sanger/kunstenaar, Krisjan, tree tydens hierdie geleentheid op.
Daisy Business Solutions behartig tans ons bestaande CCTV stelsel. Einde 2022 het ons besluit om hierdie stelsel op te gradeer en na vele gesprekke met ander privaat aftreeoorde en Badisa tehuise het ons besluit om kamera’s in ons versorgingskamers te installeer.
- Hierdie kameras sal NIE daagliks gemonitor word NIE. Dit is ook so aan ons inwoners verduidelik.
- Indien daar ‘n insident sou wees, sal dit vir ons moontlik wees om die spesifieke kamera se opname na te gaan om inligting van die insident te bekom.
- Indien iets uit die kamer sou wegraak, sal ons ook na die spesifieke kamera se opname kan kyk om so te bepaal wie in die kamer was toe iets weggeraak het.
Octotel het fibre by Huis Stilbaai kom installeer en môre gaan dit “live”. Die hele tehuis is met fibre kabels toegerus en die inwoners kan nou van enige internet diensverskaffer in Stilbaai gebruik maak, indien hulle fibre internet sou verkies vir hulle woonstel of kamer.
Ons telefoonstelsel het die afgelope paar maande verskeie probleme gegee wat betref die TELKOM seine/lyne. Ons telefoonstelsel skuif ook oor na Daisy Business Solutions en ons glo ons sal binnekort ‘n meer betroubare inkomende lyn te hê.
Vir ons telefoonstelsel en internet in die kantore maak ons van ‘n battery en omskakelaar gebruik tydens beurtkrag.
Ons het nou sedert Oktober 2022 5 omskakelaars met lithium batterye by al die versorgingsareas geïnstalleer en ons is dankbaar vir lig wanneer die krag afgaan. Suurstofpunte is ook gekoppel. Ons kan ongelukkig nog nie ander kragproppe aan die omskakelaars koppel nie. Die koste van groter omskakelaars en batterye is op die oomblik buite ons finansiële bereik.
Huis Stilbaai is baie bewus van die gebrekkige diens wat ESKOM lewer en ons Beheerraad het begin om die sonkrag opsies te ondersoek. In die tussentyd is ons dankbaar vir die 5 omskakelaars wat reeds in gebruik is in ons versorgingsgange.
Indien u bewus is van enige verskaffer in die dorpe waar u woon, wat sonkragstelsels intalleer sal ek die name en kontaknommers baie waardeer, sodat ek hulle kan kontak vir kwotasies.
Vriendelike groete
Karlien Saayman
Bestuurder – Stilbaai Bejaardesorg