Die nuwe bestuurder van Huis Stilbaai glo in ‘n lewe van gee.
Karlien Saayman wat sedert Januarie die leisels by die tehuis hou, sê sy wil weet haar harde werk het ‘n verskil in iemand se lewe gemaak.
Dié borrelende vrou met die glimlag wat nooit ver weg is nie, reken God was spesiaal goed vir haar met die werksgeleentheid: “Ek was baie bevoorreg om die pos te kry en geniet die rol nog elke dag.”
Sy en haar man Lomie (oud-Oakdaler) en hul seun Ian is gesoute wêreldreisigers, maar het nou tot rus gekom. Sy vertel hulle het meer as 35 lande in die afgelope 22 jaar besoek. Die afgelope 18 jaar het sy gesondheidsdienste in Brentwood, Essex in die Verenigde Koninkryk (VK) bestuur.
Sy is in Mowbray in Kaapstad gebore en het by Hoërskool Voortrekker in Wynberg gematrikuleer. Na sy eers ‘n draai in die destydse Vroueleërkollege in George gemaak het, het sy Matieland toe gegaan en ‘n BA-graad (maatskaplike werk) verwerf.
Ian, Karlien en Lomie Saayman.
Saayman sê dis vir haar heerlik om naby die see en die rivier te woon: “Op warm aande sal jy my in die rivier sien dryf met my noodle. As ek tyd kry geniet ek om net onder ‘n strandsambreel vir die blou see te sit ek kyk. In die VK was die seewater altyd grys.”
Op die vraag oor hoogtepunte in haar lewe tot dusver sonder sy haar seun se geboorte en haar eerste besoek aan New York uit: “Dit was vir my onvergeetlik om Ground Zero te besoek en op die Rockefeller-sentrum se uitkykdek te staan. Die hele oggend was bewolk, maar die middag toe ek daar staan het die wolke weggetrek en ek kon tot by die Statue of Liberty in die suide en Central Park in die noorde sien. Dit was vir my ‘n wonderlike genade-voorreg.”
Sy het groot planne vir Huis Stilbaai. Haar visie vir die tehuis is dat dit werklik ‘n tuiste vir inwoners en personeel sal wees: “Hier is genoeg omgee en liefde om ons ‘n leeftyd te hou.”
Die berig het verskyn in die – Suidkaap Forum